Goeiedag aan al ons Kids@Spelling lede.
Ons is baie opgewonde om ons eerste maandelikse nuusbrief met julle te deel. Ons wil graag maandeliks nuwe gedagtes, insigte en wyshede met julle deel sodat ons, ons kinders na die beste van ons vermoë kan onderrig.
God is ook in beheer en Hyself bedien ons met soveel wysheid en raad deur Sy Woord en ander mense. Ons wil aan Hom al die lof en eer gee vir die program en dit wat ons met julle kan deel. Dit is slegs deur SY genade dat ons nog opgewonde is om ‘n verskil te maak en dat ons ook ouers en onderwysers ontmoet wat saam met ons ANDERS vir ‘n jeug wat ANDERS lyk as 20 jaar gelede, wil doen.
PADKOS VIR DIE SIEL
Ons vers vir die maand kom uit Daniël 12:3 “Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel. Hulle wat baie mense lei om regverdig te word, sal vir ewig en altyd soos sterre skyn.”
Die Here belowe ons dat ons harde werk nie misgekyk word nie. Elke onderwyser en ouer wat kinders leer, sal skitter soos sterre in die naghemel. Onthou, jy is een van die sterre en niemand kan jou plek inneem nie. Jy hoef nie die hele melkweg te wees nie, wees net die beste STER wat jy kan wees. Doen jou werk met PASSIE, toewyding en liefde. God het elke opvoeder geroep om die nuwe generasie te bou. Jou werk is onmisbaar in die sukses van ons toekoms.
Ons weet mens kry nie altyd die erkenning wat jou toekom nie, maar wat meer wil ons hê as die erkenning van die Hemelse Vader en die belofte dat ons vir EWIG sal skyn soos sterre. Jesus in ons lewe is die verskil tussen net ons werk doen of die ekstra myl stap. Doen alles asof vir die Here en jou lig sal nooit ophou skyn nie. Mag jy hierdie maand moed ontvang om te SKYN.